Thursday, November 1, 2007

Ma-wees

Ek dink regtig dit is 'n conspiracy!! Deesdae sien ek orals baba goed...'n rooiwang seuntjie in 'n stootwaentjie, 'n dogtertjie in die allermooiste pienk pakkie, 'n oulike gadget vir mamma om na baba se bewegingtjies in die magie te luister, oulike babakleurtjies, en en en. Die kersie op die koek was natuurlik toe 3TALK vir Sam Cohen van 94.7 daar gehad het...raai waaroor praat hulle? Jy het slegs een raai nodig....babas.

Ek voel dat ek absoluut reg is vir ma-wees. As ek ietsie baba georienteerd sien dan trek my maag op 'n knop en daar is 'n verlange iewers waar ek nie eers geweet het dat ek 'n iewers het nie.

Soos toe ek vanmiddag vir 'n kollega van my babagoedjies gaan koop het vir haar ooievaars vrydag. Daar was 'n gratis boekie by Ackermans oor hoe om die perfekte ooievaars te beplan. Lees skaars bladsy een klaar en BOEM!!! my maag trek op 'n knop en ek verlang en die iewers laat my weet dat hy dolleeg is.

Ek spot altyd en sĂȘ dat ek gebore is vir drie dinge: om A3 se vrou te wees, om 'n onderwyser te wees en die mees belangrikste om mamma te wees. Ek kom nou agter dat ek nooit gespot het nie, maar dat dit 'n verlange diep binne in my was. Voor die troue was ek vas oortuig dat ek eers vir meer as 'n jaar getroud wou wees voordat ons daaraan begin dink het...raai wat? Dit is vandag presies twee maande na ons troue en ek smag so na 'n kleintjie van my eie.

Ek het gisteraand saam met A3 na twee wonderlike, oulike dogtertjies opgepas vir 'n vriendin van my. Ek het so lekker met hulle gespeel en hulle besig gehou, dat ek skoon hartseer was toe ons moes ry. Dit is net so 'n groot fees om met my skoonsus se twee seuns te speel en hulle op te pas en basies net te kuier.

Ek besef nou dat ek my hele lewe lank al van kinders hou en dat my eie nie ver weg is nie. Die iewers was al daar voordat ek eers geweet het dat 'n iewers bestaan. Ek hou daarvan om met grootmense te werk, maar is beslis oor die maan as ek met kinders kan werk. Enige ouderdom, tog het kleuters en peuters baie beslis 'n sagter plekkie in my hart.

Dit is beslis 'n conspiracy...Ackermans het nou-net 'n baba advertensie gehad...

Online dagboek

Wat meer kan 'n persoon voor vra? 'n Dagboek online! Jy weet natuurlik dat hierdie blog privaat sal bly solank jy nie jou blog-adres uitgee nie. Hierdie is my online dagboek oor my gevoelens en oor ma-wil-wees. Daar is soveel gevoelens wat binne my broei dat dit moeilik is om te ontsyfer as jy dit nie op papier neersit nie...en ek dink natuurlik dat hierdie die perfekte plek sal wees om dit te doen.

Gevoelens is 'n weird ding. In jou kop maal dit rond en rond en kom ook nooit tot die punt nie, dis eers wanneer jy die goed op papier sit wat dit begin sense maak. So as jy perongeluk op hierdie blog afgekom het...welkom by Froyd.